10 April 2024
My eie Ma-wees tekstuur
— My Story
Ek kyk na my vingers op die sleutelbord en sien my ma se hande. My man sê ek het my ouma se dwarsgeit geërf. Hoeveel van ons ‘voormoeders’ is weerspieël in ons DNS? Hoeveel van hulle ‘moeder-wees’ vryf op ons af?
Dis binnekort Moedersdag en ek reflekteer oor my eie ma. Hoe ouer ek word, hoe meer waardeer ek haar brand of parenting. Ek byt op my tande as my kind haar kamer-mure kamofleer onder stringe seeskulpe, geverfde cd’s, potloodsketse, polaroid fotos en plastiek plante van Shein , omdat my ma nie ‘n wenkbrou gelig het oor my beplakte ingeboude kaste nie. Ek’t elke bos blomme laat uitdroog en elke sjokolade papiertjie uitgestal. My kaste was 3D graffiti.
Ek’t ook gereeld my kamer geskuif. Alhoewel my pa gemor het oor die meubels wat verniel, het my ma my laat begaan. My dogter het dieselfde seisoenale gier. Haar pa rol ook sy oë. Ek help entosiasties saam skuif.
My ouma was weer ‘n 'voet - neersit - ma'. Streng, met ‘n klein bietjie meer tonnelvisie, soos Afrikaners seker maar was in die 50’s. Blykbaar het sy my ma berispe omdat sy ge-hoola-hoop het in die voortuin. “Want dit lyk te veel soos dans.” Tog praat my ma met deernis van haar. Sy noem haar steeds “Mammie”. Hulle het die mooiste verhouding gehad. Ek glo dis omdat sy waardevolle tyd belê het om ‘n verbintenis te vorm. Dis wat ek van my Ouma Margie geleer het. Die waarde van konneksie.
Sondae aande is dus my en my tienerseun se konneksietyd. (Hy sal seker ‘n ouderdomsgepasde vloermoer gooi as ek dit so formeel-offisieel klassifiseer. Ons kyk tog net movies en lê op die bank.)
Wat die wêreld nie weet nie, is dat ons RomComs kyk. Heerlike, soppy Romantic Comedies. En dan gesels ons oor verhoudings en lewenskeuses en Ryan Reynolds se six-pack.
Dit het my ‘n tydjie geneem om my eie tekstuur van ouerskap te vind. In die era wat ek swanger was, is keisergeboortes taamlik gekritiseer, en die feit dat ek altwee my keisers vooraf gekies het was heiligskennis. Ek het vroeg reeds met moederskap-veroordeling kennis gemaak. Vandaar dalk my dwarsgeit om my eie ouerskap-stempel op my lewensstorie af te druk.
Noudat ons tieners het, is die ouer-WhatsApp groepies 'n toonbeeld van teenstrydige opinies. Mens tik jouself gereëld oor die vingers as jy wil begin verduidelik of om verskoning vra vir jou keuse of grenslyn. Uitslaap, of nie? Uber, of nie? Sosiale media, of nie? Maar…
“You can’t raise kind, non-judgy kids if you are not a kind, non-judgy parent.”
So dan vee ek doodluiters voor my eie deur en ‘houd den bek’.
My vriende moes vir lief neem met die feit dat my grenslyne vir my kinders baie keer bloot ‘n stippellyn is. Ek erken dat ek baie buigbaar is, omdat ek my kinders grootmaak om eie, verantwoordelike besluite te neem.
Ek glo nie aan lyfstraf nie.
Ek raas nie oor ‘n C op ‘n rapport nie.
My geur van ouerskap is moontlik te soet na jou smaak. C’est la vie!
Waaroor ek wel my ouma se voet-neersit-houding inneem is as dit kom by inklusiwiteit en goedhartigheid. Sluit iemand uit of behandel iemand met minagting en jy hoor my hard en duidelik. Jy weet nie waar daai persoon geloop het nie. Jy weet nie of sy hart vol of verstop is nie. Elke mens het ‘n storie.
So wees jouself genadig en vier hierdie Mei maand jou eie tekstuur van Ma-wees. Lig jou unieke glas - of dit nou Oros of Moët is, ystee of tequila. Jy is geregtig op jou eie brand of parenting.
Cheers!
Milan