< Back

29 November 2022

7 Wenke vir 'n stresvrye gesinsvakansie!

— Milan Murray

'n Storie van "Klein" Jakkalsies...

Geskryf deur: Chantel Griesel is Arbeidsterapeut en program-samesteller by The My Story Tribe

Die tasse is gepak, die fietse is op die dak en die oorvol motor luier ongeduldig in die oprit vir die laaste familie-lid om vir oulaas te piepie. Dis vakansie! Die Pinterest-bord in my kop is vol fotos van hangmatte en draai-roomys en breë glimlagte van my gelukkige familie om die Kerstafel. 

Maar ons is skaars teen Sir Lowry's pas uit en die drama begin. Die vakansie-jakkalsies, noem ek dit. Daardie skelm argumente en krapperigheid en onderliggende stres wat maar altyd kop uitsteek. 

Hoe beplan 'n mens vir die klein jakkalsies wat jou familie vakansie probeer belemmer?

Vakansie-mite nr 1:  Beplanning is die resep vir ‘n gelukkige vakansie.

Gooi maar beplanning by die ruit uit wanneer die motor se wiele begin rol.  Die ding van klein jakkalsies is dat hulle onvoorspelbaar is.  Die grootste les van ouerskap is dat ons net eenvoudig nie altyd in beheer is nie.  Ons kinders stel nie regtig belang in ons perfekte prentjie van Kersfees nie.  Hulle stel belang in pret en speel, in gesels en verken en in avontuur.  Hulle kies vuil-wees, deurmekaar-wees, trommel-dik-geëet-wees en verbrand wees!  Ons kinders se lewens word elke uur van elke dag beplan en bestuur.  Hulle het dikwels baie min insae in die verloop van hulle skoolkwartaal en naweke is gelaai met sport.   Wat almal sal goed doen is die vryheid van tyd en om self te kan besluit hoe om ‘n dag te vul.  

WENK:  Moenie oorbeplan nie.  Laat die vakansie spontaan oopvou en leef in die oomblik, sodat die tyd ‘n bietjie kan stilstaan.

Vakansie mite nr 2:  Jy moet jou kinders heeltyd besig hou.

Daar is niks so goed vir kinders as om verveeld wees nie.  Dit skep geleentheid vir kreatiwiteit en stimuleer probleemoplossing.  Ons kinders raak moeg vir ons net soos ons ook maar uitgeput raak van hulle.  Almal het alleen-tyd nodig.  Vakansies bied ‘n geleentheid vir groter konneksie, maar ons vakansie kan nie die enigste plek wees waar konneksie plaasvind nie.  Ons vul ons vakansie dikwels met aktiwiteite in ‘n poging om isolasie en afwending te vermy.  Maar vakansie mag oomblikke van isolasie bevat.  Almal in die gesin het ‘n breek nodig. Soms is daardie breek, ‘n breek van mekaar.  

WENK: Laat jou kinders toe om op hulle eie te wees of soms verveeld te wees.  Wees ook voorbereid op kreatiewe gemors.  As ons nie vakansietyd kan mors nie , wanneer kan ons?

Vakansie mite nr 3:  Almal moet heeltyd gelukkig wees. 

As ouers sit ons so baie druk op onsself om die gesin se emosies te beheer.  Vakansie is vir baie van ons ‘n tyd van refleksie en evaluasie.  Dit neem almal van ons - self die kinders - op ‘n pad van oordink en dit sluit soms skommelende emosies in. Ook vir ons kinders.  Ons probeer dikwels hierdie emosies beheer deur ons dae vol te maak met aktiwiteite.  Ons leef so hard vir vakansie, letterlik, en ons is dikwels teleurgesteld omdat ons meer konneksie en oomblikke van intimiteit verwag het.  

 Ons het nie beplande, groot oomblikke nodig vir konneksie nie.  Lepellê  in die oggend, die trifle-bak saam uitlek, kaart-speletjies speel, saam boek lees, saam roomys eet, saam vol sand wees, die Nuwejaar inwag… Die grootste geleenthede vir verbintenis kruip dikwels in die klein onverwagse oomblikke weg. 

WENK: Die grootste geskenk wat jy jou gesin kan gee hierdie vakansie, is jou eie geluk.  Wees laf en laat jou onderrok uithang.  Die res sal volg. 

Vakansie mite nr 4:  Geen tegnologie is die sleutel tot ‘n suksesvolle vakansie. 

“Geen tegnologie” is moontlik ‘n jakkals wat baie vinnig in ‘n baie honger wolf kan ontaard.  Om summier alle skerm-tyd te verbied is soms ‘n resep vir feesgety-mislikheid! (Nie net vir die kinders nie.) Balans is die sleutel.  Bestuur dit.  Gee dalk  ‘n spesifieke tydgleuf in die dag vir almal wat wil onttrek of rustig wil ontsnap.  Besluit dalk as gesin saam oor die reëls rondom tegnologie en kies ‘n prettige straf indien iemand dit nie nakom nie.  Betrek die hele gesin by die reëls sodat almal daarby inkoop. Geen ouer wil die hele vakansie rondloop en soos ‘n plaat wat vashaak aanhoudend ‘nee’ sê nie. En ons weet mos, dis daardie herhalende ‘nee’ wat maak dat klein wolf-welpies hulle tande wys. En wolwe beweeg in ‘n trop…..   Jy gaan heel moontlik in elk geval die geveg  verloor.   

WENK:  Tem die wolf en betrek die hele gesin by die besluite rondom tegnologie.

Vakansie mite nr 5:  Kerfeestyd moet lewenslesse inhou.  

Ons kinders se lewens is besaai met lesse . Ek dink dat hulle soms so versigtig trap om nie ‘n “les -  landmyn” te aktiveer nie! Hulle leer die hele jaar lank.  Hulle hoor so baie:  “Mamma wil net gou vir jou iets leer” , “Luister mooi, ek wil jou net help” , “Luister mooi, sodat jy hierdie kan onthou.”  Daarop volg akademie en ekstra klasse en buitemuurse aktiwiteite. Leer. Leer. Leer. 

Maak vakansie-tyd liewer ‘n tyd van luister en  van rekonsilieer.  Moenie al jou lewenslessies nou inpas nie.   Leef eerder die les en wees beskikbaar.  Luister na jou kind se stem en sy behoeftes.  Maak tyd vir sy/haar stories en maak jou eie stem minder.  Ons kinders wil gehoor en gesien en waardeer word.  

WENK:  Vakansie is ‘n tyd vir stil word en inneem.  Neem jou kinders in.  

Vakansie mite nr 6:  Almal moet dankbaar wees.  

Dankbaarheid is ‘n bitter-soet pil, veral as die jaar moeilik was.  Dankbaarheid word soms ‘n lat waarmee ons ons kinders tydens vakansietyd bykom.  Ons raak gefrustreerd omdat hulle dikwels juis tydens vakansies optree soos ‘n wurm wat nie vol kom nie. En ‘n dertiende tjek strek net só ver!   Om een of ander rede maak Kersfees dikwels die gulsige monster in ons kinders wakker en  ons maak onsself ook skuldig daaraan om d.m.v materiële goed op te maak vir waar ons dalk gedurende die jaar afwesig was. Dit maak egter ons kinders se tenkies net leër,  nie voller nie.  Neem jou kind op ‘n ontdekkingsreis en vul hom met oomblikke van opregte weerloosheid.  Deel jou eie struwelinge en ook jou drome.  

WENK:  Bly liewer weg van die winkels en vul jou vakansie met opregte oomblikke.  Dankbaarheid sal daaruit vloei.  Dit vloei nooit uit sinnelose geskenke nie.  Dit is immers gemaak van plastiek.  

Vakansie mite nr 7:  Elke oomblik moet op rekord wees. 

Ons idee van vakansie word deesdae sterk beïnvloed deur sosiale media en die behoefte om gesien te word.  Ons sal die ongelukkigste oomblik forseer in ‘n Instagram-oomblik net vir daardie kiekie.  Ons kinders kan deur dit sien. As hulle nie wil glimlag op die foto nie wys hulle vir jou dat die oomblik nie opreg is nie.  Ek is mal oor fotos.  Maar my 3 seuns maak ‘n perfekte foto nooit moontlik nie.  Nou neem ek maar on-perfekte fotos, want dit is tog wat ons is:  5 weird siele, saamgegooi om sin te maak van die lewe.  Neem fotos!  Maar moenie  dit die einddoel maak nie.  

WENK:  Waak daarteen om jou hele vakansie soos ‘n produksie-skedule te beplan. Wees spontaan. Probeer ook om nie jouself (en jou uitrusting!) in elke foto te beplan nie.  Jy sal aangenaam verras wees met die mooiste, natuurlikste fotos van jou en jou geliefdes.  

Aan almal in ons Trop, mag julle ‘n ontspanne, lui-lekker vakansie hê. Sit terug en observeer.  Laat daardie klein jakkalsies lekker baljaar.  Hulle het tog ook nodig om vakansie te hou.  En as jy hou van skryf , pen die mooi oomblikke neer. Jy sal vir altyd die detail van hierdie kosbare gesinstyd wil onthou.